Tieners reik uit na Huis Lou van Wyk

Die tieners het tydens die Jeugweek gehoor dat hulle, hulle Christelike liefde prakties moet demonstreer. Ds Greta Serfontein het hulle uitgedaag om iets prakties te gaan doen.

Die tieners het besluit om iets vir die inwoners van Huis Lou van Wyk te doen. Die seuns het ingestem om ‘n deel van die tuin skoon te maak terwyl die meisies by die inwoners gaan kuier het.

Die seuns het hard gewerk, daar is geskoffel, bome is gesnoei en beddings het weer walletjies gekry. Selfs die bye kon nie die entoesiasme  van die seuns demp nie.

Die meisies het voete gewas en masseer en sommer net lekker by die inwoners gekuier. Die inwoners het dit baie geniet en het ook sommer hulle wyshede met die meisies gedeel. Een tannie het die meisies leer hekel en ‘n ander tannie het gepraat oor sake-van-die hart.

Huis Lou van Wyk het die tieners bederf met lekker koue koeldrank en ‘n pakkie chips.

Die terugvoer van die tieners is baie positief. Hulle wil weer gaan werk en kuier.

Baie dankie vir al die tieners vir julle mooi gesindheid en die harde werk.

Jeugweek 2016

Die jaarlikse Jeugweek het plaasgevind vanaf 8 tot 12 Februarie 2016.

Ds Greta Serfontein, leraar van Moreletapark, was die aanbieder. Sy het op ‘n besonderse manier kontak gemaak met die tieners. Haar passie vir tieners saam met haar kennis van tieners het gemaak dat die tieners aan haar lippe gehang het.

Sy het temas hanteer wat vir die tieners belangrik en noodsaaklik is. Die temas het ingesluit:

  • Niks om te bewys nie
  • Word wie jy is
  • Goeie goeie Vader
  • Demonstreer liefde

Een van die hoogte punte van die week was die aanbieding van “Goeie, goeie Vader”. Sy het met die tieners gepraat oor hulle verhouding met die Here. 48 Tieners het tydens daardie geleentheid hulle lewe vir die Here gegee.

Sy het toe die tema verder deurgetrek na die tieners se verhouding met hulle ouers. Sy het ‘n geleentheid geskep waartydens die tieners kon regmaak met hulle ouers. Die meisies kon by ds Greta ‘n drukkie kry en met haar praat oor hulle verhouding met hulle ma’s. Die seuns kon by ds Johan ‘n drukkie kry en met hom praat oor hulle verhouding met hulle pa’s. Hierdie was ‘n baie emosionele geleentheid en verskeie meisies en seuns het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om hulle seer te deel. Terwyl tieners hierdie geleentheid aangegryp het om dit te deel het die res van die groep, die aangrypende lied van Chris Tomlin, Good Good Father, saggies gesing. Hierdie was voorwaar ‘n baie besonderse aand gewees.

Hierdie was ‘n baie geseënde Jeugweek. Ons is so dankbaar dat die Here deur ds Greta gewerk het en ‘n impak om tieners se lewens gemaak het. Ons bid dat God sy werk in hierdie tieners se lewens sal voortsit.

Filippense 1:6 Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Die opkoms van tieners tydens hierdie week het gewissel van 80 tot 103.

Dankie aan die kerkraad wat steeds die fondse voorsien om met hierdie Jeugweek te mag aangaan.

Mag God verheerlik word deur alles wat in hierdie week gebeur het.