Aktiwiteit vir gesinne

In Groot Lydensweek herdenk ons die kruisiging en opstanding van Jesus.

Hier is ‘n aktiwiteit wat huisgesinne in hulle stiltetyd / huisgodsdiens kan gebruik.

Die aktiwiteit is by die kerkkantoor beskikbaar, maar gesinne kan nog steeds voortgaan deur die boodskappies elke dag te behandel.

Sondag, 20 Maart 2016 – Palmsondag |  Die intog van Jesus in Jerusalem  |  Matteus 21:8-9

Maandag, 21 Maart 2016 – Die instelling van die nagmaal  | Matteus 26:26-28

Dinsdag, 22 Maart 2016 – Jesus bid in Getsemane  |  Matteus 26:39

Woensdag, 23 Maart 2016 – Jesus word gekruisig  |  Matteus 27:46-50

Donderdag, 24 Maart 2016 – Jesus het opgestaan  |  Matteus 28:6

Vrydag, 25 Maart 2016 – Goeie Vrydag  |  Jesus se hemelvaart  |  Handelinge 1:9

Saterdag, 26 Maart 2016 – Die uitstorting van die Heilige Gees  |  Handelinge 2:3-4

Gemeentes maak hul harte en beursies oop vir droogtehulp

 

Wes Transvaal se gemeentes het vir twee Sondae ‘n spesiale deurkollekte gehou vir hulle droogtefonds om boere in nood te help in die gebied van ons Sinode.

Die gemeentes het wonderlik gereageer en daarom kon ons op 8 Maart die oggend by Agri Noordwes se vergadering R 500 000,00 solank aan hulle oorbetaal.

Die geld gaan gebruik word om die boere wat die grootste nood het te help.

Agri en TLU kan voer gratis geskenk kry en dan gebruik hulle die geld om vragmotors te huur om die voer aan te ry.

Ds Brink oorhandig tjek

Op die foto: Ds. Johan Brink (Assessor van Wes Transvaal Sinode en Voorsitter van hulle Sinodale Fondsekommissie) oorhandig die tjek van R 500 000,00 aan Mnr. Pierre Vercueil, President van Agri NW, terwyl Mnr. Boeta du Toit, Uitvoerende Hoofbestuurder van Agri NW toekyk. Dit was ‘n emosionele oomblik vir almal om die groot dankbaarheid van die boere te ervaar. Van die boere het onder baie trane vertel hoe dit in hulle omgewing gaan en veral hoe die diere honger ly.

Geweld op Universiteitskampusse

25 Februarie 2016

Die Tussenkerklike Raad (TKR) betreur die onrus op universiteitskampusse en die effek daarvan op studente, universiteitspersoneel, en die breër gemeenskap. Die TKR sien die onrus op kampusse as ´n uitvloeisel van die verval van wet en orde, en die versuim van politieke leiers en die owerheid om vir gewone burgers ´n voorbeeld te stel deur met ordelike gesprek frustrasie te ontlont, probleme konstruktief op te los, en versoening tussen verskillende groepe in die burgerlike samelewing te bewerkstellig. Trouens, die TKR is bekommerd dat dit juis politieke groeperings is wat die universiteitskampusse misbruik as speelveld om hulle eie politieke magsbelange te bevorder.

Daarom wil ons die TKR se vorige waarskuwing (1 Junie 2015) teen xenofobiese uitsprake, waaronder uitsprake van prominente politieke leiers en aktivistiese drukgroepe, herhaal. Rassistiese veralgemenings en stereotiperings, haatspraak en die demonisering van minderheidsgroepe lei onafwendbaar tot polarisasie van ons gemeenskap.

Die TKR veroordeel die ontwrigting van aktiwiteite aan universiteite. Die optrede van groepe en individue wat studente en sekuriteitspersoneel tart, beledig en aanrand, en wat infrastruktuur en bates afbreek en aan die brand steek, is onverantwoordelik. Dit staan in skrille kontras tot die soeke na kennis, begrip en vaardighede wat van huidige studente die leiers van môre kan maak.

Die kerk se profetiese roeping dring ons om juis in sulke tye te getuig van die versoening in en deur Jesus Christus. Die Heer van die Kerk het versoening gebring tussen God en gebroke mense, en dring ons deur sy woorde en voorbeeld om sonder voorbehoud te streef na versoening tussen mense oor alle grense heen. Jesus Christus gee ons die hoop dat versoening ook nou tussen studente op ons kampusse en verskillende belangegroepe in ons land moontlik is.

  • Daarom rig ons eerstens ’n appèl tot ons eie lidmate (waaronder studente en personeellede van universiteite) om te alle tye op te tree na die voorbeeld van ons Here, Jesus Christus. Die TKR roep gelowiges op om kwaad nie met kwaad te vergeld nie, om goedgesind te wees teenoor alle mense, om in vrede te leef met alle mense. Moet julle nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Romeine 12).
  • Tweedens doen ons ’n beroep op universiteitsowerhede om die plofbare situasie met groot sensitiwiteit te hanteer en toe te sien dat alle bona fide studente in staat gestel word om effektief te studeer. Studente moet die geleentheid hê om onderrig te ontvang, navorsing te doen en voor te berei op assessering, en daarom doen ons ’n ernstige beroep op universiteitsowerhede om nie toe te laat dat onredelike drukgroepe die akademiese program verder ontwrig nie.
  • Derdens doen ons ’n beroep op die owerhede om in belang van alle studente en landsburgers billik op te tree en toe te sien dat wet en orde herstel word. Verantwoordelike woorde en optrede van politieke leiers is van deurslaggewende belang om nou rus en kalmte te bring.

Ten slotte wil ons almal wat nou in die spervuur staan, verseker van ons voorbidding. Die studente wat oor kleurgrense heen saam begin bid het, stel ’n voorbeeld vir die breër gemeenskap. Ons bid saam met julle en ons bid vir julle – in ons huise en in ons kerke, as ons sit en opstaan en op reis gaan.

Ons hoop is gevestig op die Here. Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees (2 Korintiërs 13:13).

Ds Cassie Aucamp Woordvoerder Owerheidsake van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

Dr Wim Dreyer Voorsitter: Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

Ds Nelis Janse van Rensburg Voorsitter: Moderatuur van die Nederduitse Gereformeerde Kerk

Pastorale brief van die Algemene Sinode van die NG Kerk

Liewe Lidmaat

Ons, die dagbestuur van die Algemene Sinode, is besorg oor die stand en gang van sake in die wêreld en in Suid-Afrika. Ons rig hierdie brief aan jou om iets van ons besorgdheid te deel, maar ook ons deernis te betuig met lidmate wat in hierdie dae ongemak en spanning ervaar met die wêreld waarin jy leef. Ons, die lidmate van die NG Kerk, word nou, soos selde vantevore, uitgedaag tot ’n nuwe verbintenis om Christus te volg.

Die ekologiese krisis van aardverwarming en die uitputting van die aarde se bronne, ekonomiese faktore, roekelose ekstremiste wat mense se veiligheid bedreig en immigrante wat na die Weste stroom is ontwrigtend op baie vlakke en daag ook nou gelowiges se vertroue in God uit.

Suid-Afrikaners is ook onderhewig aan ’n groeiende spanning tussen diegene met bates, belange en wat baie het om te verloor, en diegene wat niks het om te verloor nie. Ons weet dat hierdie kloof in Suid-Afrika van die grootste in die wêreld is. Die simptome en implikasies van hierdie spanning word daagliks in die media rapporteer. Die voortgaande politieke transformasie in ons land vereis dat groot politieke en ekonomiese aanpassings gemaak word.

Dit stel besondere eise aan lidmate van die NG Kerk. Baie van ons lidmate geniet om historiese redes meer ekonomiese en sosiale voorregte as die gemiddelde SuidAfrikaner. Die eise om die herverdeling van rykdom, toegang tot studie- en werksgeleenthede en ’n groter aandeel aan die ekonomiese bronne van die land deur mense wat voorheen nie op gelyke vlak toegang daartoe gehad het nie, het dus implikasies vir ons lidmate in bevoorregte posisies. As navolgers van Christus is ons ook ernstig daaroor dat daar geregtigheid vir alle mense moet geskied en neem ons heelhartig deel aan maatreëls om ons land te genees.

Ons is daarom ook dankbaar om deel te wees van ’n kerk en kerkfamilie wat op ’n wonderlike wyse die nood van mense aanspreek. Te min erkenning word gegee vir die wyse waarop ons oor die grense van kerklidmaatskap dienend leef en werk. In die familieverband is ons sinodes se finansiële barmhartigheidsbydrae meer as R1,2 miljard per jaar. Ons lewer jaarliks professionele maatskaplike dienste aan meer as ’n miljoen mense. Dit beïnvloed bykans 5 miljoen mense se lewens. Maar veel groter as dit is die bydraes van gemeentes en lidmate in hulle persoonlike roeping tot die welsyn en ondersteuning van mense wat swaarkry. Daar is nie ’n gemeente en bykans geen lidmaat wat nie uitdeel en gee sonder om terug te verwag nie. Hierdie hulp geskied oor alle grense van ras, taal en agtergrond. Dis nêrens aangeteken nie en ons loop nie daarmee te koop nie. Ons antwoord met ons lewenstyl op die nood van Suid-Afrika. Ons het met ons lewens ’n dienende kerk geword en ons roep ons gemeentes en lidmate op om juis nou voort te gaan om as dienende kerk te leef.

Ons is egter bekommerd oor die kultuur van minagting en stereotipering wat oor die afgelope jare in ons land ontwikkel het. Byna alle indekse dui daarop dat die sosiale kohesie in ons land onder toenemende druk verkeer en rassespanning as gevolg daarvan toeneem. Die wyse waarop mense, waaronder ons lidmate, gestereotipeer, uitgesluit en bedreig word en soms met venyn beledig word, is kommerwekkend. Baie van ons mense verkeer, soos ander Suid-Afrikaners, ook vanweë ekonomiese redes onder uiterste druk. Voeg hierby die plaasaanvalle en plaasmoorde wat duisende gelowiges se lewens radikaal beïnvloed en verwoes. Grondeise wat vir jare en jare draal, ontneem landbouers van hulle sekuriteit en toekomsvisie. Die regering se voorgestelde beperking van die grondoppervlakte wat boere mag besit, hou ook nie rekening met die eise van suksesvolle kommersiële landbou nie en is ’n bedreiging vir voedselsekuriteit. Die styging in voedselpryse raak almal in ons land, maar veral die armstes word swaar getref. Dit plaas uiteraard ook druk op ons vermoë om diegene wat arm is en ly, te help. Die droogte het ons landbougemeenskap verder onder geweldige druk geplaas. Die gebrek aan basiese dienslewering en noodsaaklike onderhoud aan paaie, elektrisiteits- en watervoorsieningsnetwerke wek ook groot kommer en frustrasie.

Ons hoor voortdurend verhale van jong lidmate van die NG Kerk met uitstaande akademiese prestasies in matriek wat nie keuring vir hulle voorkeurkursusse aan tersiêre instellings kry nie. Druk op openbare skole tot eentalige onderrig in Engels het eweneens implikasies vir lidmate se taal- en opvoedingsvoorkeure.

Die voortgaande ontwrigting op verskeie universiteitskampusse is ’n bron van baie groot kommer. Die wyse waarop studente geviktimiseer word en onder druk geplaas word, die impak van groter politieke agendas wat op kampusse aan die orde kom en studente se lewens beïnvloed, die wyse waarop Afrikaans as onderrigtaal hanteer word, asook die hoogs bedreigende en vlambare omstandighede waarin studente hulle bevind, dra op grootskaalse wyse by tot mense se gevoel van bedreiging en spanning. Die oënskynlike gebrek aan ewewigtige leierskap deur die regering – waarin die belange van almal ewe ernstig geneem word – vererger grootliks die gevoel van onveiligheid.

Ons verstaan dat baie lidmate tans op ’n emosionele vlak swaarkry, ontwrig is deur openbare disrespek, diskriminasie ervaar en daarmee saam diep gevoelens van vernedering en verwerping beleef.

Ons is saam met ons susterskerke in ’n Seisoen van Menswaardigheid. Ons wil graag meewerk om respek tussen mense te herstel. Ons wil ook met deernis na mense luister en soos dit gelowiges betaam, mense omarm. Ons verbind ons in die Seisoen opnuut tot selfprysgewende liefde. Ons wil op hierdie wyse ’n kragtige getuienis oor die alternatiewe soort lewenstyl wat Jesus ons geleer het, lewer. ’n Mens kan in hierdie spanningsvolle tyd maklik deel word van die groep Suid

Afrikaners wat disrespekvol is. Jy kan aansluit by diegene wat praat oor ander sonder dat hulle ooit geluister het en hulself in die ander se skoene geplaas het. Jy kan jouself onttrek en geen verantwoordelikheid aanvaar vir die land of vir mense wat anders as jy is nie. Mens kan ook nou kies om net te blameer en veroordeel en geen bydrae maak tot geregtigheid en die heling van ons land nie. Jy kan saamspeel en rassisme koester. Daar is baie opsies.

Verreweg die meerderheid van die NG Kerk se mense, so glo ons, het egter reeds gekies om ’n konstruktiewe bydrae te maak, om betrokke te bly by ander, om respekvol te bly ongeag enigiets wat van jou gesê word of aan jou gedoen word, om ons medemens te omarm en te luister na ander se stories en menings, en om lief te hê en so in Christus se voetspore te volg. Ons maak daagliks, weer en weer, die beslissing om as navolgers van Christus anders te reageer as mense wat Hom nie ken nie. Ons kies vir respek en luister, vir omarming en liefhê met die oog op die belang van die ander. Ons verstaan dat God hierdie land vir ons almal gegee het en dat ons net gelukkig kan wees as daar na almal se belange omgesien word en daar geregtigheid vir almal is.

Ons, die dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinode, bid daarom dat die Heilige Gees self elkeen sal troos wat in hierdie dae ly en seerkry as gevolg van disrespek en ’n gebrek aan begrip en liefde van mede-burgers. Ons bid vir jou vir wysheid en fyn aanvoeling met die oog op ’n Godvrugtige lewe. Ons bid dat Filippense 1:9 en 10 vir jou waar sal wees: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.” Ons moedig jou aan om vanuit ’n diep persoonlike verhouding met God te onderskei wat sy roeping vir jou is. Ons bid dat jy dan daagliks met jou lewe sal getuig van die transformerende krag wat uitgaan van ons Hoof, Jesus Christus. Mag jy sy vrede en trou, sy inspirasie en krag ondervind en met jou lewe saamskryf aan ’n alternatiewe storie vir Suid-Afrika.

Die Here is met jou!

In Christus

Nelis Janse van Rensburg

Namens die Algemene Sinode Moderatuur