Jeugweek 2021

Te midde van Covid-19 en inperkings vlak 3, het ons steeds ’n baie geseënde jeugweek gehad. Die kinders het hulle sosiale afstand gehandhaaf en almal het maskers gedra.

Ds Phil Gräbe, leraar by NG Gemeente Quellerina, het die jeugweek aangebied. Ons sê baie dankie vir sy moeite, energie en passie waarmee hy die kinders bedien het. Ons bid ook die Here se seën af op sy bediening en sy toekoms.

Die aanbiedings vir die tieners het oor vier aande gestrek. Ons het die saal van Hoërskool Sannieshof gebruik, sodat ons aan die Covid-19 protokolle kon voldoen. Die tema vir die week was – Gemaskerde liefde. Daar is gepraat oor hoe elke persoon liefde gee en liefde ontvang. Verwagtinge en kommunikasie oor liefde is ook bespreek. Die verhouding tussen ouers en kinders, verhoudings met vriende, verhouding met God en romantiese verhoudings is bespreek.

Die tieners het elke aand heerlik saam gesing en daar is ook geleentheid gegee vir gebed.

Die tieners het die laaste aand geleentheid gekry om na hulle eie foute, sonde en tekortkominge binne verhoudings te kyk. Hulle het dit op ’n bladsy geskryf en toe in ’n vuur gegooi. So kan hulle weet dat God hulle vergewe en dat hulle nie in skuld hoef te lewe nie. Uit die tieners se reaksie is dit duidelik dat hulle baie seer het.

Ons het ook elke oggend Laerskool Sannieshof besoek. Die kinders is in twee groepe gedeel ter wille van Covid-19.

Ds Phil het op ’n baie kindervriendelike manier die kinders bedien. Hy het gepraat oor woorde wat seer maak, boelies, om die boodskap van die Bybel te onthou aan die hand van die verskillende kleure paaseiers – geel (son) herinner aan God wat geskep het; rooi (bloed / hart) herinner aan God wat sy Seun vir ons gegee het; groen (groei) herinner dat ons moet Bybel lees en bid; blou (hemel) herinner dat ons eendag by God sal wees.

Baie dankie vir almal wat behulpsaam was hierdie week. Dankie vir Laerskool Sannieshof en Hoërskool Sannieshof wat vir ons die geleentheid moontlik gemaak het. Dankie aan die kerkraad vir hulle ondersteuning en geldelike hulp om met hierdie bediening te kan voortgaan. Dankie aan Kobus en Marina Botes van Pumbas Gastehuis wat die verblyf vir Ds Phil Gräbe gratis voorsien het.

Bid asseblief vir:

  • Verhouding tussen ouers en kinders.
  • Volwassenes wat goeie voorbeelde vir kinders sal wees.
  • Kinders se geestelike groei.