Geweld op Universiteitskampusse

25 Februarie 2016

Die Tussenkerklike Raad (TKR) betreur die onrus op universiteitskampusse en die effek daarvan op studente, universiteitspersoneel, en die breër gemeenskap. Die TKR sien die onrus op kampusse as ´n uitvloeisel van die verval van wet en orde, en die versuim van politieke leiers en die owerheid om vir gewone burgers ´n voorbeeld te stel deur met ordelike gesprek frustrasie te ontlont, probleme konstruktief op te los, en versoening tussen verskillende groepe in die burgerlike samelewing te bewerkstellig. Trouens, die TKR is bekommerd dat dit juis politieke groeperings is wat die universiteitskampusse misbruik as speelveld om hulle eie politieke magsbelange te bevorder.

Daarom wil ons die TKR se vorige waarskuwing (1 Junie 2015) teen xenofobiese uitsprake, waaronder uitsprake van prominente politieke leiers en aktivistiese drukgroepe, herhaal. Rassistiese veralgemenings en stereotiperings, haatspraak en die demonisering van minderheidsgroepe lei onafwendbaar tot polarisasie van ons gemeenskap.

Die TKR veroordeel die ontwrigting van aktiwiteite aan universiteite. Die optrede van groepe en individue wat studente en sekuriteitspersoneel tart, beledig en aanrand, en wat infrastruktuur en bates afbreek en aan die brand steek, is onverantwoordelik. Dit staan in skrille kontras tot die soeke na kennis, begrip en vaardighede wat van huidige studente die leiers van môre kan maak.

Die kerk se profetiese roeping dring ons om juis in sulke tye te getuig van die versoening in en deur Jesus Christus. Die Heer van die Kerk het versoening gebring tussen God en gebroke mense, en dring ons deur sy woorde en voorbeeld om sonder voorbehoud te streef na versoening tussen mense oor alle grense heen. Jesus Christus gee ons die hoop dat versoening ook nou tussen studente op ons kampusse en verskillende belangegroepe in ons land moontlik is.

  • Daarom rig ons eerstens ’n appèl tot ons eie lidmate (waaronder studente en personeellede van universiteite) om te alle tye op te tree na die voorbeeld van ons Here, Jesus Christus. Die TKR roep gelowiges op om kwaad nie met kwaad te vergeld nie, om goedgesind te wees teenoor alle mense, om in vrede te leef met alle mense. Moet julle nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Romeine 12).
  • Tweedens doen ons ’n beroep op universiteitsowerhede om die plofbare situasie met groot sensitiwiteit te hanteer en toe te sien dat alle bona fide studente in staat gestel word om effektief te studeer. Studente moet die geleentheid hê om onderrig te ontvang, navorsing te doen en voor te berei op assessering, en daarom doen ons ’n ernstige beroep op universiteitsowerhede om nie toe te laat dat onredelike drukgroepe die akademiese program verder ontwrig nie.
  • Derdens doen ons ’n beroep op die owerhede om in belang van alle studente en landsburgers billik op te tree en toe te sien dat wet en orde herstel word. Verantwoordelike woorde en optrede van politieke leiers is van deurslaggewende belang om nou rus en kalmte te bring.

Ten slotte wil ons almal wat nou in die spervuur staan, verseker van ons voorbidding. Die studente wat oor kleurgrense heen saam begin bid het, stel ’n voorbeeld vir die breër gemeenskap. Ons bid saam met julle en ons bid vir julle – in ons huise en in ons kerke, as ons sit en opstaan en op reis gaan.

Ons hoop is gevestig op die Here. Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees (2 Korintiërs 13:13).

Ds Cassie Aucamp Woordvoerder Owerheidsake van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

Dr Wim Dreyer Voorsitter: Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

Ds Nelis Janse van Rensburg Voorsitter: Moderatuur van die Nederduitse Gereformeerde Kerk